Uit ‘n emosionele dame se mond: Dinge wat jy moet en nie moet doen in die korporatiewe werksomgewing…

by thecorporategonzo

Ek moet dalk begin dink aan ‘n skuilnaam dat my skaars verskynings nie onopgemerk gaan nie. Die Skim klink gepas, want dis die enigste naam waaraan ek kan dink wat nie aan ‘n skoonmaakmiddel herinner wat met my noemnaam rym nie. Dis ook nie ‘n homofoon daarvan is nie.

Die toetsweek bekruip ons, opsommings, notas en uitgeskeerde papiere begin weer my hele kamer vol lê en aangesien daar ‘n afwesigheid aan ouers is (ons is mos nou “volwassenes” wat uit die kooi geskop is en in die volwasse wêreld vrygelaat is) is daar absoluut die minimale behoefte om die vertrek op te ruim.

Ek dwaal van die punt af… Terug by die blog…

Ek het op ‘n artikel (dis eintlik net ‘n antwoord deur ‘n desperate dame wat nie kwaai benader wil word in haar korporatiewe omgewing nie) afgekom wat my aandag gevang het. Daar is tog waardevolle raad wat opspring deur die loop van haar antwoorde.

Die titel van die artikel is “Being an Emotional Women in a Corporate Environment – Do’s and Don’ts,” dis beskikbaar by http://babesonbaystreet.com/2010/02/17/being-an-emotional-women-in-a-corporate-environment-dos-and-donts/ vir die belangstellendes.

– Let wel ek het ook die spelfout opgemerk.

As mens is dit so dat ons gevul met emosies is, sommiges steek dit weg waar ander op elke moontlike kans wat hulle kry net seker wil maak dat elke enkele siel in hul omtrek presies weet hoe hulle oor ‘n saak voel.

Die feit bly staan dat daar ‘n goeie balans moet wees tussen watter emosies om wanneer in die korporatiewe werkplek na vore te bring.

Ek gebruik ‘n paar voorbeelde wat die dame genoem het in my plasing op die blog.

Eerstens is sy van mening dat dit belangrik is om nie emosies in die werkplek te onderdruk nie, veral empatie. Indien jy bewus is van ‘n medewerker wat moontlik iemand ken wat die tydelike met die ewige verwissel het is dit belangrik om vir dié persoon in kennis te stel dat jou gedagtes uitgaan aan hom/haar.

Die volgende ene het egter meer my interessantheidsvlakke geprikkel: “Woede in die werkplek is aanvaarbaar, maar slegs binne sekere perke.”

Sy is van mening dat dit nie reg is om iemand in verleëntheid te bring deur hulle in die publiek (waar ander werkers kan sien) te skel of aan te vat nie en om na die tyd om verskoning te vra is onaanvaarbaar. Jy moet die persoon op ‘n vriendelike manier vra of hulle eenkant toe sal staan waar daar privaatheid is voor daar enigsins geskel word… Ek stem saam dat dit die mees professionele benadering is en glo dat dit meer toegepas moet word. Ek was self al verskeie kere skuldig aan die voorafgaande.

Sy sluit af waar sy noem dat die vroulike geslag gereeld trane moet uitskei indien daar konflik situasies is. Daarvoor beveel sy aan dat indien jy ‘n dame is jy eerder nie in die publiek moet huil nie, maar eerder na die lokaal waar die neusies gepoeier word moet verdaag. Sy het begin werk in 1980 en destyds was haar werksogewing beslaan deur die manlike geslag wat dit as ‘n teken van swakheid beskou om in die publiek te huil.

My gevolgtrekking uit haar artikel maak dat ek die volgende raad aan die vroulike geslag in die korporatiewe omgewing wil deurgee, dis slegs twee skuinsgedrukte woorde met ‘n koppelteken tussenin wat jou ver kan bring: man-up.

Deur Wim Pretorius

Advertisements